Press Release - 16 February 2010

Plaaslike kopers stut eiendomsmark op George

Eiendomsverkope op George het in September verlede jaar begin styg en het in Desember en Januarie tot die beste verkoopsyfers in baie jare vir die plaaslike Chas Everitt International-kantoor gelei.

“Desember was ‘n rekordmaand,” sê eienaar Pieter van Rensburg, “en dit was interessant dat die meeste transaksies deur plaaslike kopers gesluit is, al word George allerweë as ‘n vakansiebestemming beskou. Díe kopers het aan die begin van die lente uit hulle dop begin kruip en talle inwoners het besluit om hulle eiendom op te gradeer terwyl voormalige huurders besluit het die tyd is ryp om hulle eie eiendom aan te skaf.

“Daar was egter ook ‘n toename in die aantal kopers uit ander dele van die land, veral Kaapstad en Gauteng, wat hulle gesinne hierheen wil verskuif of wat vakansie-eiendom koop. Wooneiendom in die prysklas van sowat R450 000 tot R1m vind nou byval in die mark.”

Van Rensburg spekuleer dat plaaslike kopers dink dat die mark ‘n draaipunt bereik het en hulle verwag dat pryse binnekort weer kan begin styg.

“Suid-Afrikaners in die buiteland, veral in Australië en die Verenigde Koninkryk, is ook op die oomblik relatief aktief in die mark. Dit geld ook beleggers wat woonstelle vir residensiële verhuring teiken. Hulle kan nou opbrengste van tussen 7% en 8% op sulke eenhede behaal – ‘n verbetering van 50% op die opbrengste wat net ‘n rukkie gelede die maatstaf was.”

Een- of twee-slaapkamer woonstelle haal nou pryse van tussen R450 000 en R650 000 en maandelikse huurgeld wissel tussen R2500 en R4000, sê hy.

Van Rensburg wys daarop dat vertroue in George se eiendomsmark nie net deur residensiële verkope weerspieël word nie, maar ook onderstreep word deur hernieude aktiwiteit in die handelsmark.

“Ons kantoor het in Desember ‘n handelsgebou ter waarde van R15m in die middedorp verkoop na ‘n lang periode van min tot geen belangstelling in dié sektor. En soos in die residensiële mark is daar aanduidings dat die nuwe momentum in die maande wat voorlê behou gaan word.”

Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Berry Everitt
011 801 2500 of besoek
www.chaseveritt.co.za