Press Release - 09 February 2010

Laat die trant jou lei

Danksy laer rentekoerse en beter ekonomiese vooruitsigte wend toenemende getalle eerste huiskopers hulle tot die eiendomsmark. Maar die meeste kopers soek na ‘winskopies’ - en hulle kan kers opsteek by die geslaagde skrywer en motiveringspreker, Harvey Mackay (Swim with the sharks without being eaten alive).

Sy raad word in die nuusbrief, Property Signposts, aangehaal en hy beveel aan dat kopers byderwetse woonbuurte waar skeppende mense koop, oorweeg.

“Die patroon in voorstedelike herlewing is altyd dieselfde: heel eerste om in te trek is die kunstenaars soos skrywers, skilders en fotograwe wat na soek na goedkoop verblyf in ‘n buurt waar ander kunssinniges woon – en vir daardie cachet wat hulle lank voor gewone sterflinge opmerk.

“Dan volg die kunsgallerye en restaurante, dan boetiek reklame-agentskappe en kleinskaalse argitekte wat ook ‘n kunssinnige beeld wil uitdra. Dan kom die jappies. En dan kom die toeriste.

“En met elke nuwe golf styg eiendomswaardes. Uiteindelik word die kunstenaars wat die bal aan die rol gesit het uit die mark gedruk en gaan vestig hulle elders.”

Chas Everitt International se uitvoerende hoof, Berry Everitt, sê sulke buurte is natuurlik ook ‘n magneet vir mense wat ‘n lewe daaruit maak om huise op te knap. “Daar is groot bevrediging te vind in die omskepping van ‘n vaal ou huis in ‘n vrolike eiendom wat byval onder kopers vind – en dit kan ook gesonde winste in hou.”

En, sê hy, professionele opknappers se raad aan nuwe kopers is:

* Ontwikkel ‘n oog vir moontlikhede – soos huise met verf wat afdop, bebosde tuine en verweerde dakke maar met stewige strukture;

* Hou jou oë oop vir ‘n ruim en leefbare vloerplan;

* Huise met ouderwetse of vaal dekor wat met ‘n bietjie verbeelding en slegs kosmetiese veranderings omskep kan word, is goeie kandidate;

* As daar verbreek en verbou moet word, moet ‘n mens probeer om die bestaande buitemure te behou;

* Maak ‘n aanbod die oomblik wanneer jy ‘n goeie kandidaat vir opknapping vind aangesien hulle glad nie so volop is as wat ‘n mens graag hoop nie.

Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Berry Everitt
011 801 2500 of besoek
www.chaseveritt.co.za