Huistransaksies: Voorkom kontrakbreuk
Die ongeërgde benadering van huiskopers tot verkoopsooreenkomste en die skorsingsregte daarin vervat is kommerwekkend, veral in die lig daarvan dat sulke kopers vir skadevergoeding gedagvaar kan word indien hulle kontrakbreuk pleeg.
So sê Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep. Hy wys daarop dat kopers dikwels dink dat hulle n ondertekende kontrak kan ignoreer net omdat hulle van plan verander het.
Hy sê hoewel verkopers hulle in sulke gevalle na die howe kan wend om skadevergoeding te eis, is dit gewoonlik n duur en tydrowende proses en die onmiddelike realiteit is waarskynlik aansienlike finansiële verliese.
Verkopers het byvoorbeeld dalk reeds n ander huis gekoop en kan hulle in die verknorsing bevind dat hulle vir die verbandbetalings van albei eiendomme aanspreeklik is. Hulle sal ook bykomende kostes, soos byvoorbeeld munisipale belasting, moet betaal op die eiendom wat verkoop is.
Boonop sal hulle waarskynlik die prokureur wat die oordrag hanteer moet betaal vir enige werk wat reeds gedoen is aangesien so n prokureur die verkoper verteenwoordig al maak die meeste verkoopsooreenkomste voorsiening daarvoor dat die koper alle oordragkoste sal betaal.
Everitt skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat verkopers so n nagmerrie kan voorkom deur hulle verkoopsmandaat slegs aan betroubare eiendomsagente toe te ken. Ervare en betroubare agente sal voornemede kopers keur en seker maak dat hulle ten volle bewus is van die verantwoordelikhede wat n verkoopsooreenkoms op hulle plaas.
Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Berry Everitt
011 801 2500 of besoek
www.chaseveritt.co.za